Maandag, 26 April 2027
– JOHANNESBURG, SUID-AFRIKA –
Ons groep vertrek vanaf O.R. Tambo Lughawe in Johannesburg na Barcelona. Ons toer na Europa begin uiteindelik! (Beperkte aantal retoervliegkaartjies vanaf Kaapstad soms op aanvraag beskikbaar.)
Maandag, 26 April 2027
– JOHANNESBURG, SUID-AFRIKA –
Ons groep vertrek vanaf O.R. Tambo Lughawe in Johannesburg na Barcelona. Ons toer na Europa begin uiteindelik! (Beperkte aantal retoervliegkaartjies vanaf Kaapstad soms op aanvraag beskikbaar.)
Dinsdag, 27 April 2027
– BARCELONA, SPANJE –
Ons arriveer in Barcelona. Hier wag ons luukse bus – wat die hele toer tot ons beskikking is – reeds op ons.
Ons begin met ‘n interessante stadsbesigtigingstoer per bus onder leiding van ‘n plaaslike Engelssprekende gids.
Na ons stadsbesigtigingstoer neem die bus ons na ons hotel, waar ons vanaand almal saam gesellig aandete eet.
Ons groep slaap die volgende twee nagte in ‘n pragtige luukse viersterhotel in een van die nabygeleë buitewyke van die stad.
Woensdag, 28 April 2027
– BARCELONA, SPANJE –
Ons het vandag nog ‘n heerlike vol dag in Barcelona!
Jy het nou genoeg vrye tyd om Barcelona te verken. Jy kan op jou eie na die indrukwekkende akwarium gaan, in een van die hotelle se daktuine ‘n drankie gaan geniet of sommer net in die bekende straat, La Rambla, gaan rondwandel en inkopies doen. Jy sal ook genoeg tyd hê om op jou eie die besonderse antieke Gotiese Buurt te gaan verken.
Besoek gerus ook die fenomenale La Sagrada Familia-basilika (toegangskaartjie ingesluit). Werk aan hierdie katedraal het al in 1882 begin en word steeds voortgesit.
Elke toerlid kry ‘n subsidie van €20 p.p. om aandete in die stad te geniet.
Donderdag, 29 April 2027
– PEÑISCOLA & VALENCIA, SPANJE –
Ons ry vanoggend al langs die kus af na Peñiscola. Hierdie skat van ‘n klein kusdorpie met sy kasteel is ‘n heerlike verrassing – op ‘n skiereilandjie in die see, met pragtige loopstraatjies en gangetjies en oral oulike winkeltjies.
Dan ry ons na Valencia – ‘n pragtige, rustige stad met baie indrukwekkende marmer-sypaadjies en statige geboue! Valencia is veral bekend vir sy Paella.
Hier het ons almal vrye tyd en jy kan byvoorbeeld die Torres de Serranos gaan besigtig, of die Beurs van Sy (Llotja de la Seda) besoek. Later ry ons groep na die fassinerende City of Arts and Sciences waar ons gaan rondloop en die buitekant van naderby besigtig.
Ons oornag in ‘n pragtige viersterhotel en geniet ‘n lekker aandete as groep saam in die hotel.
Vrydag, 30 April 2027
– GRANADA, SPANJE –
Ons vat vandag die pad na die beroemde stad, Granada, waar ons geleentheid het om die stad op ons eie te verken, en om self te kies en keur uit die wonderlike kos van hierdie gebied vir iets te ete die aand.
Saterdag, 1 Mei 2027
– RONDA & SEVILLA, SPANJE –
Ons vertrek vanoggend na die baie mooi stad, Ronda, met die brug Puente Nuevo uit 1793. Dit oorspan ‘n ravyn van 300 voet! In die dorpie is daar ook ‘n uitsonderlike bulgeveg-arena, die Plaza de Toros.
Ons vertrek vandag na Sevilla waar ons die volgende twee nagte oornag.
Sondag, 2 Mei 2027
– SEVILLA, SPANJE –
Vanoggend geniet ons ‘n rustige oggend in Sevilla. Dan neem ‘n Engelssprekende gids ons deur die belangrikste dele van die stad en ons besoek, onder andere, die pragtige Plaza de España.
Daarna gaan ons almal op ons eie in die ou stad met sy imposante katedraal rondstap.
Vanaand gaan ons ‘n emosievolle Flamenco-vertoning beleef. Hierdie is ingesluit by ons toerprys.
Maandag, 3 Mei 2027
– LISSABON, PORTUGAL –
Ons vertrek vanoggend vroegerig na Portugal – ‘n baie spesiale deel om te toer in Europa. Lissabon is (naas Athene) Europa se tweede oudste hoofstad en dit is hiervandaan waar Vasco da Gama sy seereise aangepak het! Ons ontmoet hier weer ‘n Engelssprekende gids wat ons vanmiddag in die stad rondneem en vele plekke van historiese belang aan ons uitwys, insluitend skakels met Suid-Afrika. Later gaan ons van hulle beroemde vla-tertjies eet.
Na ons stadstoer het ons vrye tyd om oral in die stad rond te dwaal. ‘n Rit op Trem no. 28 (‘n outydse trem) is ‘n onvergeetlike belewenis.
Ons slaap vanaand in ‘n voorstad van Lissabon en ons geniet saam aandete in ons hotel.
Dinsdag, 4 Mei 2027
– ÓBIDOS & PORTO, PORTUGAL –
Vandag ry ons noord en besoek ons die skilderagtige dorpie, Óbidos met net 3 100 inwoners. Hier is ‘n antieke stadsmuur en die dorpie beskik ook oor ‘n pragtige kasteel.
Hierna besoek ons groep die asemrowende stad, Porto – die tweede grootste stad in Portugal, aan die pragtige Douro-rivier geleë. Die historiese kern van Porto is ‘n UNESCO-wêrelderfenisgebied.
Ons hotel is gerieflik in die stadsentrum geleë. Vanaand moet ons beslis van hulle eie egte port gaan geniet! (‘n Subsidie van €15 p.p. word aan elke toerlid gegee om aandete by ‘n plek van jou keuse in die ou stad van Porto te geniet.)
Woensdag, 5 Mei 2027
– SALAMANCA & SEGOVIA, SPANJE –
Vanoggend ry ons weer Spanje binne, op pad na Salamanca.
Die ou stad van Salamanca is ‘n UNESCO-wêrelderfenisgebied en een van die belangrikste universiteitstede in Spanje – reeds in 1134 gestig, die oudste universiteit in Spanje.
Vyftien van die boë in die antieke brug oor die rivier wat na die ou stad lei, kom uit die Romeinse tydperk – uit die eerste eeu voor Christus!
Ons slaap vanaand in Segovia oor.
Donderdag, 6 Mei 2027
– SEGOVIA & MADRID, SPANJE –
Ons geniet ‘n dag in Segovia – ook ‘n UNESCO-wêrelderfenisgebied. Die stad beskik oor ‘n akwaduk wat uit die laat eerste eeu n.C. dateer en dit word as die belangrikste antieke Romeinse ingenieurswerk in Spanje beskou.
In Segovia ontmoet ons vanoggend ‘n plaaslike Engelssprekende gids wat ons in die stad rondneem. As groep besigtig ons ook die pragtige Alcázar-kasteel (toegang ingesluit).
Na vrye tyd om die stad te verken, ry ons per bus na die Spaanse hoofstad, Madrid, waar ons die volgende twee nagte gaan oornag – in ‘n luukse viersterhotel in ‘n mooi buurt ‘n entjie van die middestad af.
Vrydag, 7 Mei 2027
– TOLEDO & MADRID, SPANJE –
Vanoggend ry ons na die beroemde stad Toledo (ook ‘n UNESCO-wêrelderfenisgebied) waar ‘n gids ons gaan rondneem. Sinagoges, moskees en kerke staan langs mekaar in die historiese ou stadsgebied, met ‘n magdom museums, ou brûe, poorte, kloosters en vele meer.
Na ons heerlike besoek ry ons terug na Madrid vir die tweede besigtigingstoer van die dag. Met ‘n amptelike gids leer ons die besonderse besienswaardighede van Madrid ken, insluitend die Koninklike Paleis, die Real Madrid-stadium en die Plaza de Toros de Las Ventas. Later geniet ons vrye tyd in die stad.
Daarna vertrek ons na ons hotel in Madrid en geniet saam aandete.
Saterdag, 8 Mei 2027
– MADRID, SPANJE –
Ons laaste dag bied nog vele geleenthede om van die baie besienswaardighede in Madrid op ons eie te besigtig – bv. die Hop-On Hop-Off-bustoer of die beroemde Prado-museum. Daar is ook tyd om allerlei inkopies in die stad te doen.
Later ry ons per bus na die lughawe vanwaar ons vanaand terug vanaf Europa na Suid-Afrika vertrek.
Sondag, 9 Mei 2027
– JOHANNESBURG, SUID-AFRIKA –
Ons land in Johannesburg van Europa af. Nadat ons soveel gesien en beleef het, gaan ons nog jare lank die mooiste herinneringe hieraan koester!
Die toerprys is onderhewig aan 'n aanpassing volgens die wisselkoers. Die finale toepaslike wisselkoers word ongeveer vier maande voor vertrek vasgestel en sal op die finale faktuur weerspieël word, wat drie maande voor vertrek betaalbaar is. Wisselkoerse word vir prysdoeleindes na die naaste ZAR afgerond.