Sondag, 25 April 2027
– JOHANNESBURG, SUID-AFRIKA –
Ons vertrek vanaf O.R. Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg op ons vlug na Parys in Frankryk. ‘n Beperkte aantal retoervliegkaartjies vanaf Kaapstad is ook op aanvraag beskikbaar.
Sondag, 25 April 2027
– JOHANNESBURG, SUID-AFRIKA –
Ons vertrek vanaf O.R. Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg op ons vlug na Parys in Frankryk. ‘n Beperkte aantal retoervliegkaartjies vanaf Kaapstad is ook op aanvraag beskikbaar.
Maandag, 26 April 2027
– PARYS, GIVERNY & BAYEUX, FRANKRYK –
Na ons aankoms op die Charles de Gaulle-lughawe in Parys, vertrek ons direk na die skilderagtige dorpie Giverny. Hier stap ons deur die lewende skilderye van Claude Monet – waar die ikoniese Japannese brug en die waterlelies ons in ‘n see van kleur en rustigheid verwelkom. Daarna reis ons dieper Normandië binne na die geskiedkundige dorp Bayeux, waar ons vir die volgende drie nagte tuisgaan in die ou stad – ‘n perfekte basis om hierdie fassinerende streek te verken. Ons vier vanaand die afskop van ons Europese avontuur met ‘n heerlike aandete saam as groep.
Dinsdag, 27 April 2027
– POINTE DU HOC, OMAHA & LONGUES-SUR-MER, FRANKRYK –
Vandag onderneem ons ‘n diep emosionele reis terug na 6 Junie 1944. ‘n Plaaslike gids laat die geskiedenis wat hom hier afgespeel het, lewendig word. Ons begin by die indrukwekkende kranse van Pointe du Hoc, waar die littekens van die oorlog steeds in die vorm van enorme bomkraters sigbaar is.
Daarna besoek ons ‘n fassinerende privaat museum by Omaha-strand waar soldate se persoonlike items boekdele oor die oorlog spreek. Hierna geniet ons ‘n rustige middagete langs die kus.
Die middag staan ons stil tussen die duisende wit kruise van die Amerikaanse Begraafplaas. Ons besoek die massiewe kanonne van Longues-sur-Mer en sluit die dag met ‘n asemrowende uitsig oor die kunsmatige hawe van Arromanches af.
Elkeen ontvang €25 subsidie ter bydrae om aandete in een van die plaaslike restaurante te geniet.
Woensdag, 28 April 2027
– MONT-SAINT-MICHEL & BAYEUX, FRANKRYK –
Vandag besoek ons een van die wêreld se groot wonders: die eiland-abdij van Mont-Saint-Michel. Hierdie middeleeuse vesting rys soos ‘n lugspieëling uit die see op.
Ons verken die nou klippaadjies en die indrukwekkende katedraal bo-op die spits.
Ongelukkig word die beroemde Bayeux tapisserie tot Oktober 2027 tydelik in die Britse Museum gehuisves terwyl restourasiewerk aan die Bayeux Tapisserie Museum voltooi word. Terug in Bayeux is daar nou egter vrye tyd om die Gedenkmuseum vir die Slag van Normandië, of Baron Gérard Museum vir Kuns en Geskiedenis teen jou eie pas te besoek.
Ons geniet weer aandete op ons eie in die stad (WinskoopToere dra €25 subsidie by).
Donderdag, 29 April 2027
– PAYS D’AUGE & HONFLEUR, FRANKRYK –
Ons groet Bayeux en reis deur die beeldskone Pays d’Auge.
Geen besoek aan Normandië is volledig sonder om hul beroemde kaas te proe nie en daarom besoek ons ‘n kaasmaker (fromagerie) vir ‘n heerlike kaasproesessie.
Daarna wag Honfleur, moontlik die mooiste hawedorp in Frankryk. Die res van die middag is joune om langs die skilderagtige Vieux Bassin (ou hawe) te sit en die atmosfeer te geniet.
Ons oornag die volgende twee nagte in die hartjie van Honfleur. Ons geniet aandete op ons eie in een van die vele plaaslike restaurantjies in die dorp of hawe, waarvoor WinskoopToere €25 bydra.
Vrydag, 30 April 2027
– ÉTRETAT & FÉCAMP, FRANKRYK –
Vandag ry ons oor die argitektoniese meesterstuk, die Pont de Normandie, op pad na die Alabaster-kus.
Ons besoek ook die fassinerende Tuine van Étretat – ‘n asemrowende groen meesterstuk wat soos golwe oor die kranse vloei en ‘n onvergeetlike uitsig oor die see bied.
Die wit krytrotse en natuurlike boë van Étretat is een van die mees gefotografeerde tonele in Europa. Na ‘n verkwikkende wandeling langs hierdie ikoniese kuslyn besoek ons die manjifieke Palais Bénédictine in Fécamp, waar ons ‘n kykie in hul distilleerdery kry en die geleentheid het om van hul geheime likeur te proe.
Ons oornag weer in Honfleur, met ‘n aandetesubsidie van €25.
Saterdag, 1 Mei 2027
– DUNKIRK, FRANKRYK & BRUGGE, BELGIË –
Ons reis vandag noordwaarts.
Ons eerste stop is by Delville-bos waar ons die museum en gedenkteken besoek. Min mense weet dat hierdie stil Franse bos heilige Suid-Afrikaanse grond is. Dit eer die meer as 3 000 Suid-Afrikaanse soldate wat hier in 1916 in ‘n weke-lange weermagslag gesterf of gewond is. Met sy pragtige nasionale monument, ‘n museum in die vorm van die Kaapse Kasteel van Goeie Hoop, en die laaste oorspronklike boom wat die bomme oorleef het, bring hierdie stop ‘n tasbare gees van nasionale trots en diepe emosie na ons toer.
Hierna stop ons in Dunkirk om die ongelooflike storie van Operasie Dynamo te herleef, waar honderde duisende soldate vanaf die strande in 1940 gered is.
Na ‘n besoek aan die aangrypende museum langs die strand, steek ons die grens na België oor.
Hier wag Brugge, ‘n sprokiesagtige stad, waar ons vir die volgende drie nagte stapafstand van die ou stad tuisgaan. Ons geniet saam aandete in die hotel.
Sondag, 2 Mei 2027
– GENT & BRUGGE, BELGIË –
Vandag ontdek ons die stad Gent. Ons besoek die massiewe Gravensteen-kasteel, wat soos iets uit ‘n riddersprokie lyk.
Geniet gerus middagete langs die Graslei, voordat ons die St. Baafskatedraal – met die wêreldberoemde “Lam van God”-altaarstuk, besoek.
Die aand keer ons terug na die rustigheid en sjarme van Brugge. Elkeen kan aandete op hulle eie geniet in een van die vele restaurante in die ou stad (WinskoopToere dra €25 by).
Maandag, 3 Mei 2027
– BRUGGE, BELGIË –
Vandag gee ons die bus ‘n rusdag en verken ons Brugge te voet – of dalk wil jy dit ook per boot of koets verken?
Vaar deur die kanale en stap oor die antieke brûe.
Bederf jouself met wêreldklas Belgiese sjokolade, snuffel handgemaakte kant uit, of klim die 366 trappe van die Belfort-toring vir ‘n onverbeterlike uitsig oor die stad.
Ons oornag weer in ons hotel in Brugge. Subsidie van €25 word bygedra vir jou eie aandete.
Dinsdag, 4 Mei 2027
– ZEELAND & LEIDEN, NEDERLAND –
Ons groet die betowerende België en ry deur die Westerschelde-tonnel na die provinsie Zeeland in Nederland.
Hier besoek ons Neeltje Jans en die wêreldbekende Deltawerke. Dit is ‘n belewenis om te sien hoe die Nederlanders die krag van die oseaan met ingenieursvernuf getem het.
Teen die aand arriveer ons in die pragtige gragtestad Leiden waar ons die volgende drie nagte oornag, weer digby die ou stad.
Vanaand geniet ons ‘n eg Nederlandse aandete saam.
Woensdag, 5 Mei 2027
– KEUKENHOF & DELFT, NEDERLAND –
Vandag is die dag waarvoor almal gewag het! Ons arriveer vroeg by die hekke van Keukenhof om die asemrowende blomtuine te beleef voordat die groot skares opdaag. Miljoene tulpe en hiasinte skep ‘n kleurfees sonder gelyke.
In die middag besoek ons die historiese stad Delft, bekend vir die beroemde blou-en-wit porselein. Hier woon ons ‘n demonstrasie by die Delft Blue-fabriek by.
Ons oornag vanaand weer in ons hotel in Leiden. Ons kan vanaand ‘n gesellige restaurant gaan uitsoek vir aandete (WinskoopToere dra €25 by).
Donderdag, 6 Mei 2027
– AALSMEER & GOUDA, NEDERLAND –
Ons begin die oggend by die Aalsmeer-blommeveiling, die grootste ter wêreld, waar miljoene blomme binne minute van eienaar verwissel. Wat ‘n fees vir jou sintuie!
Aangesien ons vroeg reeds by die veiling moet wees, keer ons daarna eers terug na ons hotel vir ‘n smaaklike ontbyt.
Daarna reis ons na die historiese Gouda en geniet ‘n egte tradisionele markdag! Ons ervaar ‘n tradisionele kaasmark waar boere nog op die ou manier handel dryf. Ons besoek ook die Sint-Janskerk met sy beroemde loodglasvensters.
Ons geniet ons laaste aand in Nederland in Leiden. Ons eet saam in ons hotel vanaand, terwyl ons stories van die afgelope twee weke uitruil.
Vrydag, 7 Mei 2027
– LEIDEN, NEDERLAND –
Ons geniet ‘n rustige oggend in Leiden met ‘n bootvaart by Kagerplassen en ‘n WinskoopToere-bederf. Ons vertrek later na Schiphol-lughawe vir ons vlug terug na Suid-Afrika.
Saterdag, 8 Mei 2027
– JOHANNESBURG, SUID-AFRIKA –
Ons land veilig terug in Suid-Afrika met harte en kameras vol onvergeetlike herinneringe.
Die toerprys is onderhewig aan 'n aanpassing volgens die wisselkoers. Die finale toepaslike wisselkoers word ongeveer vier maande voor vertrek vasgestel en sal op die finale faktuur weerspieël word, wat drie maande voor vertrek betaalbaar is. Wisselkoerse word vir prysdoeleindes na die naaste ZAR afgerond.