NSP27

Noord-Spanje en die Spaanse Pireneëtoer

Hierdie besonderse deel van Europa is nog baie onbekend, op hierdie toer beleef jy van die mooiste natuurskoon, pragtige middeleeuse strate en pleine in die kostelikste dorpies, sowel as ‘n tikkie van die geritsel van die groot stede. Ons gaan tot hoog in die Pireneë.
14 DAE 3 September - 16 September 2027
TOERPRYS Prys onbekend
DEPOSITO R6,000 pp

Waarheen toer ons?

Spanje

Ons WinskoopToerleiers

Emma Howell

Fanus Howell

Roetekaart
Top ervarings
WinskoopToere sorg vir alles
Uitstappies
Reisprogram
Dag 1
Vrydag, 3 September 2027 | Johannesburg, Suid-Afrika

Ons groep vertrek vanaf O.R. Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg na Barcelona. Beperkte aantal retoervliegkaartjies vanaf Kaapstad soms op aanvraag beskikbaar.

Dag 2
Dag 2
Saterdag, 4 September 2027 | Barcelona, Vilafranca Del Penedès, Besalú & Girona, Spanje

Ons arriveer in Barcelona waar ons luukse toerbus op ons wag. Die bus laai ons gerieflik naby aan die Mercat dels Dissabtes (Saterdagstraatmark) in die hartjie van Vilafranca del Penedès af – een van die oudste en mees lewendige straatmarkte in die streek, met vars vrugte, groente, plaaslike kase, charcuterie, tradisionele gebak, plaaslike wyn en cava.
Ons geniet vanaand ‘n meesleurende, private flamenco-vertoning gekombineer met tradisionele Spaanse tapas en plaaslike cava.

Dag 3
Dag 3
Sondag, 5 September 2027 | Mas Blanch I Jové, Gerri De La Sal, Peramea & Rialp, Spanje

Na ‘n heerlike ontbyt vertrek ons na Mas Blanch i Jové – ‘n unieke familie-wynlandgoed waar kuns, wyn en die Katalaanse landskap saamvloei.
Na hierdie heerlike en gesellige kuier vertrek ons na die dorpie, Gerri de la Sal in die Lleida-provinsie se Pallars Sobirà-streek. Met ons aankoms neem minibusse ons op na Peramea – ‘n dorpie met net sowat 80 permanente inwoners. Ons stap rustig in hierdie dwergdorpie rond en geniet ietsie te drinke by die plaaslike kroegie indien oop.
Ons oornag vanaand in Rialp.

Dag 4
Dag 4
Maandag, 6 September 2027 | Sort & Vielha, Spanje

Ons geniet vanoggend ‘n heerlike ontbyt in ons hotel. Ons vertrek na die dorpie Sort. By Tros de Sort luister ons na ‘n inligtingsessie oor hierdie familiebesigheid en kry ons die geleentheid om van hul unieke kase te proe en te koop.
Ons reis verder na nog ‘n familieplaas by Llessui. David, die skaapwagter, wag ons in by die Llessui-museum en ons kry ‘n blik op ‘n ander tipe skaapplaas. Plaaslike versnapperinge is ingesluit.
Ons vertrek vanaf Llessui oor die Puerto de la Bonaigua-bergpas na Vielha, waar ons die eerste van twee nagte oornag – in die hart van die Pireneë, naby Aneto (Spanje se derde hoogste berg, 3404 m).

Dag 5
Dag 5
Dinsdag, 7 September 2027 | Vielha & Omgewing, Spanje

Ons geniet ‘n heerlike ontbyt in ons hotel. Vandag is ‘n luilekker dag in die Val d’Aranstreek. ‘n Voormiddag-uitstappie na Arties en Baqueira is opsioneel vir dié wat die berge wil invaar; die bus vervoer volgens skedule sodat ander kan uitrus of Vielha op hul eie pas verken.
In Arties kan ons wandel deur een van die mooiste blommedorpies in die vallei, met tradisionele kliphuise, die Garonne-rivier en ‘n 13de eeuse kerk. Ons besoek ook die Baqueira-ski-oord en neem die Telecabina Baqueira (kabelkar) op vir ‘n panoramiese uitsig oor die Pireneë-berge en valleie.
Ons bus neem ons terug na Vielha waar ons ‘n laat Spaanse middagete en ‘n vinnige siesta geniet.

Dag 6
Dag 6
Woensdag, 8 September 2027 | Ainsa, Olite & Pamplona, Spanje

Vandag ry ons verder deur die Pireneë. Op pad besoek ons die dorpie Ainsa, waar ons op die stadsmuur kan loop en ‘n koue bier op die stadsplein kan geniet – met die 12de eeuse Iglesia parroquial de Santa María-kerk en die 11de eeuse kasteel as belangrikste besienswaardighede.
Later vandag ry ons na Olite om die Koninklike Paleis van Olite te besoek – sedert die 13de eeu bekend as die Paleis van die Koning van Navarra.
Hierna ry ons na Pamplona, hoofstad van Navarra-provinsie, wêreldwyd bekend vir die hardloop van die bulle tydens die San Fermínfees. Ons slaap die volgende twee aande in Pamplona oor. Ons geniet vanaand saam aandete in ons hotel.

Dag 7
Dag 7
Donderdag, 9 September 2027 | Pamplona, Spanje

Ons geniet vanoggend ‘n heerlike ontbyt in die hotel. Na ‘n stadsbesigtigingstoer o.l.v. ‘n plaaslike gids, het elkeen die res van die dag vry. Pamplona se historiese middestad behou steeds sy Middeleeuse karakter – die Santa María-katedraal is ‘n moet-sien. Die Pamplona-stadsmure is ‘n Renaissance-juweel waar jy bo-op kan stap vir panoramiese uitsigte oor die historiese stadsentrum en Taconera-tuine, tot by die Sitadel.
Elkeen ontvang €25 subsidie vir aandete.

Dag 8
Dag 8
Vrydag, 10 September 2027 | San Sebastián

Vanoggend vertrek ons na San Sebastián, aan die Baai van Biskaje in die bergagtige Baskiese gebied. Ons besoek van die gewildste uitsigpunte, insluitend die drie massiewe Corten-staalbeelde deur Eduardo Chillida, vasgeanker waar Ondarreta-strand, Monte Igueldo en die Atlantiese Oseaan bymekaarkom.
Later ry ons na ons hotel waar ons inteken. Daarna het ons heerlike vrye tyd om die stad verder te verken, insluitend ‘n wandeling op die promenade.
Elkeen ontvang €25 subsidie vir aandete. Ons oornag in San Sebastián.

Dag 9
Dag 9
Saterdag, 11 September 2027 | Lekeitio & Bilbao, Spanje

Na ontbyt in die hotel het ons nog heerlike tyd vanoggend om San Sebastián verder te geniet.
Daarna vertrek ons na die kusdorpie, Lekeitio, met ‘n eiland, berg, rivier, strand en ‘n gotiese basilica wat oor die dorp uittroon.
Later vertrek ons na Bilbao, ‘n industriële hawestad omring deur groen berge, die de facto hoofstad van die Baskiese Gebied en die tiende grootste stad in Spanje. Elkeen ontvang €25 subsidie vir aandete.

Dag 10
Dag 10
Sondag, 12 September 2027 | Bilbao & Santillana Del Mar, Spanje

Vanoggend skop ons af met ‘n stadstoer o.l.v. ‘n plaaslike gids. Bilbao is bekend vir die hiper-moderne Guggenheim Museum (1997), met ‘n permanente versameling van visuele kunste van die twintigste eeu. Elke toerlid ontvang sy eie toegangskaartjie.
Later vertrek ons na Santillana del Mar, volgens Sartre die mooiste dorpie in Spanje. Eers besoek ons die Altamira Nasionale Museum en Navorsingsentrum, met die uitstalling “The Times of Altamira” en ‘n presiese replika van die Altamira-grotte se Paleolitiese grotskilderye.
Hierna teken ons in by ons lieflike hotel in die omgewing waar ons vir die volgende drie aande gaan oornag.

Dag 11
Dag 11
Maandag, 13 September 2027 | Santander & Santillana Del Mar, Spanje

Vandag se uitstappie neem ons na Santander, hoofstad van Kantabrië aan die Noordkus van Spanje. Die voormalige koninklike Palacio de la Magdalena lê in die mond van die Baai van Santander. Ons onderneem ‘n besigtigingstoer met ons bus.
Op die Paseo de Pereda-promenade is pragtige beelde oorkant die Jardines de Pereda-tuine te sien, met ‘n strand vir swem. Geniet gerus tapas op die Plaza de Cañadío of besoek die Santanderkatedraal (13de eeu).
Laatmiddag besoek ons Santillana del Mar vir vrye tyd – besoek gerus die Collegiate Church of Santa Juliana of die Belardes Paleis.

Dag 12
Dag 12
Dinsdag, 14 September 2027 | Fuente Dé, Potes & Santillana Del Mar, Spanje

Na ontbyt het ons ‘n lieflike uitstappie. Ons ry met die beroemde kabelspoor Teleférico Fuente Dé: dit neem ons 1823 meter op in slegs vier minute tot in die hart van die Picos de Europa Nasionale Park. Elkeen kan sorgvry wandel op verskillende bergpaadjies.
Ons vertrek later na Potes, een van die aantreklikste klein Middeleeuse dorpies in Kantabrië, naby die Picos de Europa Nasionale Park.
Na heerlike vrye tyd ry ons terug na ons hotel buite Santillana del Mar waar ons vir oulaas saam heerlike aandete geniet.

Dag 13
Dag 13
Woensdag, 15 September 2027 | Segovia & Madrid, Spanje

Na ontbyt vertrek ons na Segovia, waar ons die middag deurbring.
Ons vertrek laatmiddag na die lughawe buite Madrid vanwaar ons vanaand terugreis na Suid-Afrika.

Dag 14
Donderdag, 16 September 2027 | Johannesburg, Suid-Afrika

Donderdag, 16 September 2027
– JOHANNESBURG, SUID-AFRIKA –
Ons vlug land in Johannesburg. Nadat ons soveel gesien en beleef het, gaan ons nog jare lank die mooiste herinneringe hieraan koester!

Nie ingesluit by toerprys
Visumkoste
Middagetes
14 DAE 3 September - 16 September 2027
TOERPRYS Prys onbekend
DEPOSITO R6,000 pp

Wisselkoers

€1 = R19.00

Die toerprys is onderhewig aan 'n aanpassing volgens die wisselkoers. Die finale toepaslike wisselkoers word ongeveer vier maande voor vertrek vasgestel en sal op die finale faktuur weerspieël word, wat drie maande voor vertrek betaalbaar is. Wisselkoerse word vir prysdoeleindes na die naaste ZAR afgerond.

Ems +27 83 637 1542
Ilzé +27 83 637 1642

Kontak Ons
WhatsApp Toerledeportaal FAQ