BKERS26

Ons Donau Winterboottoer

Kom beleef Europa se winterbekoring op ’n onvergeetlike Donau Winterboottoer. Van die eeue-oue Kersmarkte van Nürnberg tot die keiserlike prag van Wene en die verligte skoonheid van Budapest – elke dag bring nuwe ontdekkings. Met ’n luukse bootvaart, pragtige historiese stede, tradisionele Kerslekkernye en die feestelike atmosfeer van Europa in Desember, is hierdie BoetiekToer ’n ware winterdroom.
11 DAE 9 Desember - 19 Desember 2026
TOERPRYS R90,000 p.p. wat deel
DEPOSITO R6,000 pp
ENKELTOESLAG R6,000 pp
KONTAK ONS UITVERKOOP

Waarheen toer ons?

Duitsland Hongarye Oostenryk

Ons WinskoopToerleiers

Brechtje Jooste

Hestia Victor

Roetekaart
Top ervarings
WinskoopToere sorg vir alles
Uitstappies
Reisprogram
Dag 1
Woensdag, 9 Desember 2026 | Johannesburg, Suid-Afrika

Ons vertrek vanaf O.R. Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg op ons vlug na München in Duitsland. ‘n Beperkte aantal retoervlugte vanaf Kaapstad is ook op aanvraag beskikbaar.

Dag 2
Donderdag, 10 Desember 2026 | München & Nürnberg, Duitsland

Ons arriveer in München en vertrek dan met ons luukse bus na Nürnberg – bekend vir die eeue-oue houtbalke van vakwerkhuise wat stories vertel van ryk handelaars wat die fynste stowwe en lappe hierheen gebring het.
Ons hotel is lekker sentraal geleë en ons maak sommer vroeg al ‘n draai by hierdie bekende en oudste Kersmark in Duitsland. Hier sien ons tradisionele handgemaakte Kersversierings en proe lekkernye soos gemmerkoek en Spekulatius-amandelkoekies.
Vanaand slaap ons in ‘n pragtige hotel en geniet saam aandete as groep..

Dag 3
Dag 3
Vrydag, 11 Desember 2026 | Nürnberg, Duitsland & Viva Enjoy

Ons geniet ontbyt in ons hotel waarna ons op ‘n stadstoer van die mooie ou Nürnberg vertrek. Die stad se kasteel dateer uit ongeveer 1140 en vorm die begin (of einde) van Nürnberg se bekende historiese myl.
Hier sien ons pragtige kerke, indrukwekkende fonteine en die Tucherschlossmuseum. Nürnberg se geskiedenis vertel egter ook van moeiliker tye. Dit is immers hier waar die hoofoortreders van die Nazi-gruweldade in 1946 verhoor en skuldig bevind is.
Later vanmiddag gaan ons by Nürnberg se hawe aan boord van die Viva Enjoy, waar ons bootvaart begin.

Dag 4
Dag 4
Saterdag, 12 Desember 2026 | Regensburg, Duitsland & Viva Enjoy

Na ‘n heerlike ontbyt aan boord, vaar ons na Regensburg. Hierdie stad se ryk geskiedenis en pragtige argitektuur sal jou asem wegslaan! Ons vaart neem ons tot by die Steinerne Brücke, ‘n 12de-eeuse brug oor die Donau wat ‘n ingenieurswonder van sy tyd was.
Die ou stad van Regensburg is een van Duitsland se besbewaarde middeleeuse stede met ‘n ryk Romeinse geskiedenis. Ons besigtig die Regensburger Dom wat ‘n gotiese meesterstuk en ‘n belangrike landmerk van die stad is.
Ons groep onderneem ook ‘n busuitstappie na die betowerende romantiese Regensburg Kersmark in die Tuin van Thurn en die Taxis-kasteel. Hier geniet ons die feestelike Kersatmosfeer, luister na die musiek, bewonder die handgemaakte produkte en proe van die heerlike plaaslike eetgoed.
Later keer ons terug na ons boot waar ons die aand oornag.

Dag 5
Dag 5
Sondag, 13 Desember 2026 | Passau, Duitsland & Viva Enjoy

Ons geniet ontbyt terwyl ons verder op ons Donau Winterboottoer vaar en later by Passau se hawe vasmeer.
Passau staan bekend vir sy riviere, pragtige barok-argitektuur en die skilderagtige landskap. Hier vloei drie riviere saam – die Donau, Inn en Ilz. By die bekende Dreiflüsseeck (Drieriviere-hoek) kan ons selfs die verskillende kleure van die drie riviere sien waar hulle bymekaarkom.
Die St. Stephanskatedraal met sy oorwegend wit binnekant met barok-stucco en goudversierings, word as een van die belangrikste barokkerke noord van die Alpe beskou. Dit huisves ook die grootste katedraal-orrel in die wêreld – met byna 18 000 pype.
Later keer ons terug na die boot waar ons saam aandete geniet.

Dag 6
Dag 6
Maandag, 14 Desember 2026 | Linz & Salzburg, Oostenryk & Viva Enjoy

Ons word wakker by die dorpie Linz en geniet ontbyt aan boord.
Daarna vertrek ons met ‘n luukse bus, deur die pragtige Oostenrykse landskap, na Salzburg, die geboortestad van Mozart – ‘n UNESCO-wêrelderfenisgebied.
Ons stap deur die bekende Getreidegasse, waar Mozart gebore is, en bewonder die Hohensalzburg-vesting wat hoog bo die stad uittroon. Die smal stegies, gangetjies en historiese geboue gee aan Salzburg sy unieke atmosfeer.
Hierna geniet ons vrye tyd om self in ‘n koffiewinkel te ontspan of sommer net die stad verder te verken.
Teen vanaand is ons weer terug aan boord van die Viva Enjoy om aandete te geniet.

Dag 7
Dag 7
Dinsdag, 15 Desember 2026 | Wene, Oostenryk & Viva Enjoy

Na ontbyt aan boord vaar ons na die Wachau-streek met sy wingerde, kasteelruïnes en romantiese dorpe. Later arriveer ons in die elegante stad Wene, die hoofstad van Oostenryk – bekend vir sy majestueuse argitektuur, klassieke musiek, kuns en koffiehuiskultuur.
Die res van die dag het ons vrye tyd om onsself in die prag van die historiese ou stad te verloor. Wene se artistieke en intellektuele siel is gevorm deur legendes soos Mozart, Beethoven en Sigmund Freud, en die spore van hul nalatenskap is oral te vinde. Verken die stad se keiserlike glorie by die manjifieke paleise, insluitend Schönbrunn, die beroemde somerwoning van die Habsburgers. Vir die kunsliefhebbers is die Museumkwartier ‘n móét – hier kan jy die meesterlike werke van Egon Schiele, Gustav Klimt en vele ander wêreldklas-kunstenaars bewonder.
Ons geniet ‘n rit langs die beroemde Ringstrasse waar ons indrukwekkende geboue soos die Hofburg-paleis, die Nasionale Operahuis en die universiteit sien. Daarna stap ons deur die middestad waar ons die bekende St Stephanskatedraal bewonder.
Hierdie deel van die toer kombineer die natuurskoon van die Donau met Europa se ryk kultuurerfenis – ‘n besonderse ervaring.
Ons geniet vir oulaas aandete aan boord van die Viva Enjoy.

Dag 8
Dag 8
Woensdag, 16 Desember 2026 | Budapest, Hongarye

Na ontbyt aan boord verlaat ons die Viva Enjoy en spandeer nog ‘n paar uur in Wene voordat ons met ons luukse bus na Budapest vertrek. Hierdie stad, met sy indrukwekkende argitektuur, warmwaterbronne en ryk geskiedenis, is ‘n besonderse belewenis.
Hier sien ons onder meer die indrukwekkende Parlementsgebou, die Buda-kasteel en die Vissersbastion.
Vanaand slaap ons in ‘n vyfsterhotel naby die parlementsgebou. Elkeen ontvang subsidie van WinskoopToere en is vry om op hul eie van die plaaslike Hongaarse kos te geniet.

Dag 9
Dag 9
Donderdag, 17 Desember 2026 | Budapest, Hongarye

Budapest bekoor ons behoorlik en ons geniet vandag ‘n stadstoer onder leiding van ‘n plaaslike gids. Ons besoek onder meer ook die interessante grotkerk en verken verskeie Kersmarkte waar ons steeds die feestelike atmosfeer beleef.
Teen sononder geniet ons nog ‘n besondere hoogtepunt – ‘n bootvaart op die Donau wanneer die stad se liggies begin aangaan.
Vanaand eet ons vir oulaas saam aandete in ons hotel se eetkamer, waar jy kompleet voel asof jy Keiser Franz Joseph I en Keiserin Elisabeth (Sisi) se persoonlike gas is.

Dag 10
Dag 10
Vrydag, 18 Desember 2026 | Budapest, Hongarye

Ons geniet ons laaste paar uur in Budapest voordat ons na die lughawe vertrek. Gebruik hierdie tyd om nog inkopies te doen of sommer net die stad rustig te geniet.

Dag 11
Saterdag, 19 Desember 2026 | Johannesburg, Suid-Afrika

Ons arriveer weer op die O.R. Tambo of Kaapstad se Internasionale Lughawens, verryk deur hierdie besondere winterboottoer op die Donau

Toerlede  foto's
Nie ingesluit by toerprys
Visumkoste
11 DAE 9 Desember - 19 Desember 2026
TOERPRYS R90,000 p.p. wat deel
DEPOSITO R6,000 pp
ENKELTOESLAG R6,000 pp
KONTAK ONS UITVERKOOP

Wisselkoers

€1 = R19,00

Die toerprys is onderhewig aan 'n aanpassing volgens die wisselkoers. Die finale toepaslike wisselkoers word ongeveer vier maande voor vertrek vasgestel en sal op die finale faktuur weerspieël word, wat drie maande voor vertrek betaalbaar is. Wisselkoerse word vir prysdoeleindes na die naaste ZAR afgerond.

Ems +27 83 637 1542
Ilzé +27 83 637 1642

Kontak Ons
WhatsApp Toerledeportaal FAQ